Vivian Butler

VILLA LANDBOUKUNDIGE

Brian de Villiers

VILLA BYVOEGMIDDELKONSULTANT

Die hoofdoel van byvoegmiddels is om te sorg dat gewasbeskermingsproduke (GBPe) hul volle potensiaal bereik en deoltreffend is. Byvoegmiddels beskerm GBPe teen swak waterkwaliteit, verhoog die bedekking van spuittoedienings en verbeter die aktiwiteit van kontak- en sistemiese produkte op die blaar.

Dit verminder gevolglik die invloed van eksterne faktore sodat GBPe meer stabiel oor verskeie omgewings presteer. Daar is selfs byvoegmiddels wat meer as een van die genoemde funksies verrig. Dit gebeur egter selde dat ‘n byvoegmiddel doeltreffendheid verhoog terwyl dit ook insetkoste bespaar. MASTERLOCK®, die jongste Villa-byvoegmiddel, is juis so ‘n produk en kan saam met verskeie GBPe in boordgewasse toegedien word. 

Verhoogde doeltreffendheid

INTERLOCK® word reed jare lank saam met onkruiddoders in rygewasse gebruik om bedekking te verbeter. Dit is die volgende produk in die reeks wat vir bespuiting in boorde en wingerd gebruik word. Dit is ‘n neerslag-hulpmiddel wat die ultrafyn spuitdruppels aanpas sodat daar meer druppels van die ideale grootte is. Gevolglik is daar meer bedekking op alle hoogtes en dieptes van die blaredak. Doeltreffendheid berus op getalle – hoe meer druppels die teiken bereik, hoe groter is die kans op goeie beheer. Dit verlaag ook wegdrywing van die ultrafyn druppels, gevolglik is daar minder verlies na aangrensende gewasse. Die olie-komponent in MASTERLOCK® verminder die verdampingstempo van druppels, wat ‘n direkte positiewe uitwerking op insek- en swambeheer het.

Die produk bevat egter ook ‘n volle dosis eiesoortige nie-ioniese benatter wat die spuitdruppels se oppervlakspanning verlaag. Dit beteken dat daar minder druppels afspat en beter verspreiding op die blaar gee, wat tot verhoogde bedekking en doeltreffendheid bydra.

Die middel se benatter vervul egter ook ‘n kritieke rol op die blaar. Dit skep ‘n ideale omgewing in die spuitdruppelneerslag vir beide kontak- en sistemiese GBPe. Hierdie produkte moet vir lang tydperke op die blaar vertoef om doeltreffend te wees. Die benatter en olie in MASTERLOCK® beskerm GBPe en laat voldoende tyd vir die opname van sistemiese produkte toe. Sodoende word insek- en swamdoders se doeltreffendheid verder verhoog om die beheer van peste en plae te optimaliseer.

Die aansprake oor die middel word ondersteun deur hoogs wetenskaplike data uit windtonnels in die Verenigde State van Amerika asook deur verskeie plaaslike proefnemings. Gereelde toetse met die DropSight-tegnologie word plaaslik uitgevoer vir optimale bedekking en beheer. MASTERLOCK® het ‘n uitgebreide etiket en dit is met verskeie Villa GBPe in boordgewasse geregistreer.

Koste- en tydsbesparing

‘n Sitrusprodusent van Letsitele is bygestaan om die hoë watervolume wat hy met sy GBPe toedien, met MASTERLOCK® te verlaag. Vir die proefneming is MASTERLOCK® met ‘n minerale olie vergelyk en twee verskillende watervolumes is toegedien. Gewoonlik spuit die produsent met ‘n ratspoed van 3-laag vir voldek. Met hierdie proefneming wou die bedekking van die GBPe bepaal word indien dit op ‘n vinniger ratspoed van 1-medium gespuit word.

Om die resultate te evalueer is UVIEW (fluoresserende kleurstof) saam met die byvoegmiddels in die tenk gevoeg en die resultate is met die DropSight-toepassing bevestig. Die gemiddelde bedekking (“percentage fluorescent particle coverage” of %FPC) wat met MASTERLOCK® verkry is, was amper twee keer soveel as die van olie. MASTERLOCK® het ook beter bedekking gebied teen die laer watervolume versus die hoë volume (Figuur 1). 

Die gevolge hiervan is verreikend. Nie net is hoër bedekking met ‘n laer watervolume spuit verkry nie, maar die besparing in tyd en geld is enorm. Berekeninge is gemaak om te bepaal wat dit beteken om die watervolume ietwat te verlaag. Die water wat per hektaar toegedien is, is tussen die twee ratte bepaal. Die spuit (Bateleur) se lewering teen 20 Bar en 540 rpm is ook bepaal. Die spasiëring van die sitrusbome was 7×3 m.

Met die laer rat is 9 634 L/ha toegedien, en met die hoër rat 8 544 L/ha. Dit is gevolglik 1 090 L minder water per hektaar (11%) wat met die hoër rat toegedien is, 10 900 L minder per 10 ha, 109 000  L minder per 100 ha, en net oor ‘n miljoen liter minder water per 1 000 ha.

Dit is egter die tydsbesparing wat die oë behoorlik laat rek. Die tydverskil oor 100 m was slegs 14  sekondes tussen die twee ratte, maar oor ‘n hektaar maak dit ‘n verskil, nie eers gepraat van groter oppervlaktes nie. Met die vinniger rat word 6 minute 40 sekondes per hektaar gespaar, 1  uur 6 minute per 10 ha, 11 ure en 6 minute per 100 ha, en 111 ure en 6 minute oor 1 000 ha.  

Met minder water wat per hektaar toegedien word, word tyd ook bespaar deur minder te hervul. Vier minder tenks per 10 ha word benodig, 40 minder tenks per 100 ha, en 400 minder tenks per 1 000 ha. Indien dit 10 minute vir ‘n trekkerdrywer neem om na die naaste waterpunt toe te ry, vol te maak en terug te ry voordat hy weer kan begin spuit, sal dit hom 40 minute langer neem om teen die hoër watervolume 10 ha te spuit, 6 ure 40 minute vir 100 ha, en 66 ure 40 minute vir 1 000 ha.

Die totale tydsbesparing vir spuit en volmaak is dus 1 uur 46 minute per 10 ha, 17 ure 46 minute per 100 ha, en 177 ure 46 minute per 1 000 ha. Om dit in perspektief te stel, neem dit sewe dae minder om deur ‘n boord van 1 000 ha te beweeg indien elke dag 24 uur lank gespuit word.

Heelwat diesel- en meganisasiekoste word ook gespaar deur minder water te gebruik. Met ‘n gemiddelde afstand van 500 m na die naaste waterpunt, word 4 km minder gery om 10 ha teen die laer watervolume te spuit, 40 km minder om 100 ha te spuit en 400 km minder om 1 000 ha te spuit.

Vanselfsprekend is daar ‘n kostebesparing met die GBPe. Neem kennis dat hierdie produkte slegs die Villa GBPe insluit, omdat geen aansprake en aanbevelings oor ander produkte gemaak word nie. Hou egter altyd noukeurig binne die etiketriglyne.

MASTERLOCK® is ‘n unieke byvoegmiddel wat die doeltreffendheid van bespuitings verhoog terwyl dit ook kostebesparing kan bewerkstellig. Dit is egter van wesenlike belang om te besef dat dié kostebesparing slegs vir baie hoë watervolumes geld waar daar ruimte vir vermindering is. Dit is geensins van toepassing op laer volumes nie en dit moet oordeelkundig in samewerking met ‘n Villa-bemarkingsadviseur toegepas word. Die onverantwoordelike vermindering van watervolume is roekeloos en dit sal die doeltreffendheid van die bespuiting nadelig beïnvloed. Kontak die Villa-bemarkingsadviseur vir meer inligting of stuur ‘n WhatsApp na 011 396 2233.

MASTERLOCK® registrasiebesonderhede: Reg. No. L 10496, Wet No. 36 van 1947. Aktiewe destanddeel: gemodifiseerde groente-olie (889 g/ℓ) + ander bestanddele. Waarskuwing: Veroorsaak oogirritasie. Skadelik indien ingeasem. Registrasiehouer: WinField Solutions Registration Holdings (Mpy) Bpk. Mpy. Reg. No. 2015/312008/07, Posbus 10413, Aston Manor 1630, Suid-Afrika. Tel. 011 396 2233. Lees altyd die etiket.