Toenemende avokado-aanplantings wêreldwyd, beperkings met infrastruktuur in Suid-Afrika en min handelsooreenkomste is sommige beperkings wat nou voor die deur van subtropiese vrugprodusente lê en reeds ervaar word.

Henk du Toit en Tracey Campbell.

Hierdie beperkende omstandighede is deur sprekers by Subtrop se afgelope bemarkingsimposium in Witrivier genoem. Subtrop is die sambreelorganisasie vir die produsenteverenigings van avokado’s, mango’s en lietsjies.

Lande met handelsooreenkomste wat aan hulle produkte voorkeurtoegang verskaf het ‘n groot voordeel teenoor Suid-Afrika se beperkte handelsooreenkomste. Wolfe Logan Braude, bestuurder van die landbousakekamer Agbiz se Vrugtelessenaar, het by die simposium gesê Suid-Afrika het geen vryhandelsooreenkomste of voorkeurhandelsreëlings tot belangrike Asiatiese markte nie, behalwe met Indië. Daarenteen het Suid-Afrika se mededingers in die Suidelike halfrond verskeie sulke ooreenkomste as voorkeur-handelsvennote.

Om marktoegang vir Suid-Afrikaanse vrugte te bewerkstellig word planne nou vir meer marktoegang beraam. Hiervoor is samewerking tussen Fruit SA, verskillende staatdepartemente en verteenwoordigers van die vrugtebedryf baie belangrik. ‘n Handelswerkgroep is op die been gebring, ‘n voorkeurmodel is saam met die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) vir die departement van landbou ontwikkel en ‘n bedryfslys van prioriteitsprojekte is saamgestel. Aansoeke vir marktoegang word met gelyktydige verwerking bespoedig.

Al hoe meer avokadoboorde kom wêreldwyd in produksie, maar daar is nie genoeg markte en marktoegang vir die produkte nie. Die totstandkoming van die internasionale organisasie vir lande wat avokado’s produseer, die Wêreld-avokadovereniging (WAO), het sedert dit in 2016 gestig is verskeie suksesvolle veldtogte geloods en aan die voorpunt gestaan van voorkomende stappe teen dreigende beperkings. Zac Bard, voorsitter van die WAO en voormalige werknemer by Westfalia in Suid-Afrika, het tydens die simposium verslag gedoen oor huidige en toekomstige projekte.

Juan Antonia Davies Maremo, Piet Mulder, Waldo Maree en Johan Botha.

Die WAO het reeds ses suksesvolle bemarkingsveldtogte geloods en het gefokus op avokado’s se gesondheidsvoordele en die gerief om dit te benut. Tans word ‘n veldtog geloods om mites van volhoubare avokadoverbouing en omgewingsake reg te stel.

“Ons het ‘n goeie produk met ‘n goeie storie om te vertel, wat waar is,” het Bard aan simposiumgangers gesê.

Die WAO gaan in 2023 op Asië fokus om markte en verbruik uit te brei. In 2021 en 2022 het Spanje se produksie meer as verdubbel terwyl Israel en Chili baie meer geproduseer het. Dit het volgens Bard veroorsaak dat baie meer avokado’s beskikbaar was en dit het sake vir Suid-Afrika bemoeilik. Peru het 15 000 ha avokadoboorde wat in produksie gaan kom.

Lande met ontwikkelende avokadoproduksie wat vinnig uitbrei sluit China, Rusland, Japan en Kanada in. Die huishoudelike verbruik in Chili het 120 000 ton beloop en in Israel meer as 80 000 ton. In Suid-Afrika beloop dit 40 000 ton en in Indië slegs 2 000 ton.

Die 2022-seisoen het volgens Bard gewys dat bemarking deurlopend in ‘n jaar moet plaasvind en nie tot spitstye beperk moet word nie. Daar is potensiële markte waarop die bedryf kan fokus, maar die markte moet geopen en ontwikkel word en dit is nie maklik nie.

As markte nie uitgebrei word nie, voorsien Derek Donkin, Subtrop se uitvoerende hoof, nog druk vir die Suid-Afrikaanse avokadoprodusente in die volgende sowat twee seisoene. Groeiende produksie deur lande soos Spanje, Israel, Marokko en Portugal sorg vir groot hoeveelhede op markte. In die 2021/22-seisoen het Israel byvoorbeeld meer as dubbel hulle vorige seisoen se volume uitgevoer. Die nuwe aanplantings van sowat 15 000 ha in Peru wat in die volgende vyf tot ses jaar in produksie gaan kom, is bykans net soveel as Suid-Afrika se totale huidige aanplantings.

Ray Carlse, Bevan Carlse, Roger Armitage en Mark Taylor. 

Donkin het gewys hoe Kenia se uitvoer as Afrika se grootste avokadoprodusent toegeneem het. Van 2017 af produseer Kenia meer as Suid-Afrika. Terwyl Suid-Afrika se uitvoer na die EU en Verenigde Koninkryk in die afgelope seisoen konstant gebly het, het Kenia toenemend na onder meer die Mediterreense lande uitgevoer.

Subtrop het as sambreelorganisasie verskeie aansoeke vir marktoegang ingedien vir avokado’s, lietsjies en mango’s en hoewel daar vordering is ervaar hulle ook frustrasies en oponthoude, soos na die VSA, sê Donkin. Politieke verhoudings en handelsooreenkomste in ander bedrywe soos die hoender- en varkbedryf vertraag vordering om markte te ontwikkel. Subtrop beywer hulle nie net vir nuwe markte nie, maar moet ook huidige markte behou en optimaliseer.

Thomas Eskesen van Denemarke, ‘n konsultant van wêreldwye verkoelde vervoer in verskeping, het gesê Suid-Afrika se swak infrastrukteer het aandag nodig. Uitvoerders en produsente behoort by gesprekke met verskepingsmaatskappye betrek te word omdat hulle besluitneming belangrik is. Hy het lof gehad vir Subtrop en bedryfsorganisasies vir hulle werk om uitvoerbeperkings tot voordeel van alle bedrywe te verminder.

Die kommunikasiemaatskappy Protactic Strategic Communications wat plaaslike dienste vir Subtrop se avokado- en mangoprodusente lewer, pas hulle veldtogte by die verbruikersgedrag aan. Glynnis Branthwaite van Protactic het verduidelik dat verbruikers daagliks aan sowat 10 000 advertensies blootgestel word. Plaaslike en internasionale faktore beïnvloed verbruikers se gedrag en keuses, soos om meer aankope aanlyn te doen. Bemarkingsveldtogte moet gevolglik voortdurend aangepas word.

Protactic pas hulle bemarkingstrategieë voortdurend aan, soos om meer van digitale platforms gebruik te maak waarop volgelinge reageer op mense met invloed se kommunikasie. Die maatskappy gaan voort om verbruikers op te voed omtrent avokado’s en mango’s se herkoms, voordele en hantering.