“Daar is vordering met nuwe kultivars,” sê Bram Snijder, voorsitter van die SA Lietsjiekwekersvereniging (SALKV). Tydens die SALKV se navorsingsimposium in Mbombela het Andani Mmboyi van die Landbounavorsingsraad (LNR) verslag gedoen oor die evaluering van nuwe lietjieskultivars wat vir plaaslike produksie oorweeg kan word. Vir die bedryf hou die nuwe kultivars groot belofte in.
Tydens die SAKV se simposium het twee kundiges van China voordragte gelewer oor die verbouing van kultivars en inligting verskaf waarby Suid-Afrikaanse produsente kan baat. Proff Houbin Chen en Xuming Huang van Suid-China se landbou-universiteit het ook produsente se boorde in verskillende produksiegebiede besoek en praktiese raad verskaf.
Plaaslike kundiges het tydens die simposium hul navorsingsresultate met die produsente bespreek. Dié kundiges was Karin Hannweg en dr Regina Cronje van die LNR-TSG en Nico Roets van Huilboerboon Landboudienste. Dr Cronje het noue bande met China se lietsjiebedryf en hulle wetenskaplikes.
Ter aanvulling van die twee kultivars wat die meeste in Suid-Afrika geproduseer word, Mauritius en McLean’s Red, evalueer die LNR se kampus vir tropiese en subtropiese gewasse (LNR-TSG) ingevoerde kultivars om die beskikbare verskeidenheid uit te brei. Die mikpunt is onder meer om kultivars met ander produksietye te kry en nuwe uitvoermarkte te ontgin. Met die moontlikheid van nuwe uitvoermarkte is dit noodsaaklik dat die bedryf kultivars vir daarde markte kan voorsien.
Sowat ‘n dekade gelede is dertig lietsjiekultivars van Australië (17) en Israel (13) vir evaluering na Suid-Afrika ingevoer. Die meeste kultivars is by Mbombela geëvalueer waar die omgewing ‘n warm subtropiese klimaat het en vir die meeste ingevoerde kultivars geskik is. Die proefnemings is na ander streke in Suid-Afrika uitgebrei om aanpasbaarheid by ander klimaatstoestande te evalueer.
Tans word die kultivars Mauritius en McLean’s Red die meeste in Suid-Afrika verbou, maar altwee openbaar toenemende probleme, soos onvoldoende verkleuring en saadgrootte – die “pit” se grootte in verhouding tot die vrugvleis. Klimaatsverandering en nuwe uitvoermarkte het ook ‘n rol gespeel in die SALKV se soeke na meer geskikte kultivars.
Gedurende elke seisoen is die ingevoerde kultivars se vrugte met rypwording geoes om die produksie en kwaliteitskenmerke te bepaal. Kenmerke soos opbrengs, vruggrootte, massa, oplosbare suiker, kleur en die verhouding van saad en vrugvleis is onder meer aangeteken. Weens klimaatsverandering se uitwerking met hoër temperature en laer humiditeit speel kultivars se geneigdheid tot sonbrandskade ook ‘n rol.
In die 2023/24-seisoen is die ingevoerde kultivars weer getoets en met Mauritius en McLean’s Red vergelyk. Lietsjies se rypwording en produksietyd word in drie seisoene verdeel, naamlik, vroeg, middel en laat. Mauritius is sedert 1875 in Suid-Afrika en word in die middelseisoen ryp. McLean’s Red kom in die middel- tot laatseisoen in produksie.
In die LNR-TSG se evaluering van kultivars het die kultivar Hung Long en Kim Cheng Mesa deurlopend ‘n hoë vruglading en blomme in al drie seisoene gehad. Hung Long het in die Mbombela-produksiestreek ook ander voordelige eienskappe gehandhaaf. Sy gemiddelde opbrengs oor vier jaar het nie veel van Mauritius se opbrengs verskil nie.
Hung Long het ‘n groter en swaarder vrug as dié van Mauritius, dit is sappig en het ‘n mediumgrootte saad. Die vrug skil maklik, dit is ferm en het ‘n goeie balans van soetheid. Die kultivar se rypwording is in die middelseisoen en die vrug word van die vierde week in November tot die eerste week in Desember ryp.
Onder die nuwe kultivars wat later ryp word is Maguli baie voordelig, met ‘n oestyd in die eerste en tweede week van Februarie. Dit is tot agt weke later ryp as Mauritius. Maguli se saad is lank en smal, die vrug is helder en die skil is rooigeel. Volgens die evaluering is Maguli se vrugmassa beduidend beter as dié van McLean’s Red.
Nog ‘n kultivar wat later ryp word en belofte toon, is Goose Egg. Sover dit vruggrootte betref was Goose Egg die beste kultivar in die 2023/24-seisoen se LNR-evaluerings, beduidend beter as McLean’s Red. Die kultivar se groot vrug het ‘n dik skil, die vrug is helder en sappig en die saadgrootte medium tot groot.
In produksiestreke soos by Tzaneen en George’s Valley word Goose Egg drie tot vier weke later ryp as Mauritius en McLean’s.