JACQUES FOUCHÉ
Hoof: NexusAG Tegniese Afdeling
Ruitrugmot is `n algemene pes van koolgewasse in Suid-Afrika en wêreldwyd. Ruirugmot veroorsaak aansienlike skade, veral as beheermaatreëls nie noukeurig toegepas word nie.
`n Geïntegreerde beheerprogram wat uit verskillende vlakke van ingryping bestaan, moet gevolg word. Die program word saamgestel deur `n mengsel van praktyke, monitering, fisiese-beheermaatreëls, biologiese-beheermaatreëls en laastens konvensionele insekdoders.
Konvensionele insekdoders kan in verdere vlakke opgebreek word volgens die nie-teikenimpak, m.a.w. die selektiwiteit of spektrum van die middel se insekdodende vermoë. Insekdoders met `n noue spektrum van selektiwiteit moet eerste oorweeg word om sodanig `n minimale nie-teikenimpak of om minimale nadelige impak op voordelige organismes te hê.
Alhoewel konvensionele insekdoders die laaste oorweging in `n geïntegreerde program is, is dit `n belangrike rol en moet dit gereeld ingespan word. Insekdoders moet oordeelkundig gebruik word om die maksimum waarde dit kry, terwyl die misbruik daarvan groot risikos kan bevat.
Misbruik, meer spesifiek die herhaalde gebruik van dieselfde insekdoders kan lei tot insekdoder-weerstand, en dit sal beteken dat die insekdoder nie meer effektief is nie. `n Pes soos ruitrugmot, wat `n vinnige aanteel-vermoë het, kan vinnig weerstand ontwikkel. Indien `n insek weerstand vir `n spesifiek aktiewe bestanddeel ontwikkel het, is dit gewoonlik permanent en sal die insekdoder nie weer effektief vir die spesifieke pes gebruik kan word nie. Selfs ander insekdoders wat op dieselfde metode van aksie werk sal potensieel nie meer effektief wees nie.
Om uitgediende insekdoders te vervang sal benodig dat nuwe insekdoders met `n ander metode van aksie ontwikkel word. Dit kan jare en selfs dekades neem. Uitgediende insekdoders sal veroorsaak dat die oorblywende insekdoders meer gebruik word en die weerstand-ontwikkeling risiko vir die ander middels sal nog verder verhoog. Weerstand-ontwikkeling moet vir hierdie redes altyd vermy word. Weerstandontwikkeling is `n seldsame en onsigbare proses en word soms nie ernstig opgeneem.
Die realiteit is dat met elke toediening van `n insekdoder word seleksie-druk op die bevolking van die teiken-organisme geplaas, wat eventueel tot weerstand kan lei. Wêreldwyd het ruitrugmot al vir verskeie insekdoders weerstand ontwikkel, van ouer generasie piretroïede (IRAC MOA groep 3) tot die nuwer generasie insekdoders soos die diamiedes (IRAC MOA groep 28). Insekdoder-weerstand is `n werklikheid en `n groot risiko wat in ag geneem word met die toediening van elke insekdoder.
Die beste manier om insekdoderweerstand te vermy, is om insekdoders met verskillende metodes van aksie gereeld af te wissel. Die metode van aksie word deur `n nommer op die etiket van die produk aangedui of kan deur `n gewasbeskerming-adviseur aangedui word. Die afwisseling van die metode van aksies moet gepaard gaan met die fenologiese ontwikkeling van die pes. Twee opeenvolgende generasies van `n pes moet nie aan insekdoders wat dieselfde metode van aksie gebruik, blootgestel word nie. `n Generasie van `n pes kan korter wees in die warm somermaande as in die koeler wintermaande. IRAC se aanbeveling is om ruitrugmot met `n 30 dae generasie of venster periode te hanteer.
Die insekdoder metode van aksie groep wat in die eerste 30 dae gebruik word, kan nie in die volgende 30 dae gebruik word nie, en moet met `n ander metode van aksie insekdoder afgewissel word. Om nog veiliger te wees, kan verskillende metodes van aksie groepe binne een generasie (30 dae) toegedien word, solank geen van daardie groepe in die volgende generasie gebruik word nie. Behalwe vir afwisseling van insekdoder-groepe, moet die etiket aanwysings ook eerbiedig word.
Sekere insekdoder-etikette beperk die aantal toedienings wat per produksiesiklus toegedien kan word. Laastens, enige pes moet beheer word deur geïntegreerde beheermaatreëls toe te pas en daar moet nie slegs op konvensionele insekdoders staat gemaak word nie.
NexusAG Croplife-geakkrediteerde gewasadviseurs kan jou help met kundige advies en maatpas gewasbestuursprogramme wat jou unieke omgewing en spesifieke omstandighede in ag neem.
Kontak ons gerus vir meer inligting. Besoek www.nexusag.net of skakel ons: 021 860 8040.