JACQUES FOUCHÉ
Hoof: NexusAG Tegniese Afdeling
Monitering bly een van die hoekstene van geïntegreerde plaagbeheer (GPB). Dit behels die inspeksie van gewasse en of gebiede vir plae. Monitering geskied deur die direkte waarneming van plae en siektes op gewasse deur mense en of deur toerusting soos lokvalle te gebruik. Die doel is om die gewas se risiko vir plae en siektes te bepaal.
Inligting word versamel vir besluitneming rakende optrede om gewasse te beskerm. Deur die regte inligting in te samel, dit te verwerk en te vertolk kan gewasskade geminimaliseer word sonder om oorbodige beheermaatreëls te volg. Monitering is ‘n langdurige en noukeurige proses. Die gebruik van tegnologie kan monitering vergemaklik, maar dit sal waarskynlik nooit ‘n veldbesoek kan vervang nie.
Die monitering van plae vereis tyd en arbeid – twee hulpbronne wat dikwels beperk is. Dit is egter ‘n geringe uitgawe as dit met die aankoop en toediening van plaagbeheermiddels vergelyk word en selfs ‘n kleiner uitgawe indien potensiële skade aan die gewas in aanmerking geneem word. Plae kan ‘n direkte uitwerking op hierdie aandrywers van winsgewendheid hê en daarom behoort monitering ‘n prioriteit te wees.
Plaagmonitering kry weens verskeie redes nie genoeg aandag nie. Wantroue omtrent die akkuraatheid van inligting is waarskynlik een van die groot redes hoekom monitering soms afgeskeep word. Om aandag aan hierdie uitdaging te gee is ‘n moniteringstelsel nodig wat deur opgeleide en betroubare personeel uitgevoer word, asook ‘n standaard moniteringsmetode, toerusting soos vergrootglase en knipmesse en die boekstawing van inligting, verkieslik in digitale formaat vir maklike bestudering en verspreiding.
‘n Tweede uitdaging is om die versamelde inligting korrek te vertolk. Hiervoor is drempelwaardes ‘n nuttige middel. Die uitdaging met drempelwaardes is dat dit nie vir ál die plae en produksiestelsels bestaan nie. Dit moet gereeld aangepas word na gelang van die gewas se waarde en die gevolglike potensiële finansiële verlies en die koste van beheermaatreëls. Beheermaatreëls se koste kan natuurlik baie tussen produkte en seisoene wissel, asook weens die gewas se inkomste. Landbounavorsing speel ‘n belangrike rol om drempelwaardes saam te stel en dit te evalueer.
‘n Derde uitdaging is meer sielkundig van aard. Slegte nuus het ‘n groter uitwerking op die mens se psige as goeie nuus. Met ander woorde, die vrees vir slegte nuus soos gewasverlies is groter as om vertroue in goeie inligting te hê. Dit beteken dat beheermaatreëls (uit vrees) eerder onnodig uitgevoer word as om glad nie maatreëls toe te pas nie, ten spyte van geen bewyse dat maatreëls nodig is nie.
Wat stel die kundiges voor? Ontwikkel ‘n moniteringstelsel in fases. Gebruik tyd om die regte mense aan te stel en belê in goeie opleiding. Maak seker personeel het die korrekte toerusting. Waarnemings behoort ordelik vasgevang te word. Bestudeer inligting noukeurig al neem dit tyd. Bespreek die inligting met ervare kundiges van geïntegreerde gewasbeskerming. Voer ingeligte besluite uit, evalueer die resultate en maak aanpassings vir akkurater besluite in die toekoms.
Landbougewasse bestaan in ‘n lewendige en dinamiese ekosisteem waar faktore nie altyd reg of verkeerd, wit of swart is nie. Dit bestaan uit ‘n spektrum van waarskynlikhede en potensiële uitkomste. Dit is nie moontlik om alles te meet of te voorspel nie. ‘n Eerste stap in hierdie dinamiese ekostelsel is om te kyk (te monitor): kyk of daar plae is, hoe doeltreffend die beheermaatreël is, hoe plae gedurende die seisoen verander, kyk na voordelige organismes en die gewas se vatbaarheid. Hierdie waarnemings en dinamiese aanpassings is fundamenteel tot geïntegreerde plaagbeheer.
NexusAG-gewasadviseurs met Croplife-akkreditasie kan produsente bystaan met kundige advies en maatpas bestuursprogramme wat unieke omgewings en spesifieke omstandighede in ag neem.
Kontak NexusAG gerus vir meer inligting. Besoek www.nexusag.net of skakel: 021 860 8040.