Meer kultivars wat lietsjies van hoë kwaliteit lewer en wat ‘n langer oestyd het, bevoordeel die Suid-Afrikaanse lietsjiebedryf na jare se navorsing met ingevoerde kultivars. Tydens die SA Lietsjiekwekersvereniging se navorsingsimposium in Mbombela het navorsers verslag gedoen van onder meer nuwe kultivars, produksie in ‘n warmer klimaat en metodes om sonbrandskade te voorkom.

Die SA Lietsjiekwekersvereniging se simposium was volgens Bram Snijder, voorsitter van die Lietsjiekwekersvereniging (SALKV / SALGA), belangrik om terugvoering van navorsers te kry. Hoewel navorsing ‘n prioriteit is, is die Vereniging konserwatief met die besteding van fondse sodat produsente daaruit baat kan vind deur hul produksie te verbeter.

Vyf jaar se evaluering van nuwe kultivars het getoon dat kultivars van hoë gehalte vir die plaaslike bedryf beskikbaar is sodat die kultivarverskeidenheid en oesseisoen vergroot kan word, het Andani Mmboyi van die Landbounavorsingraad (LNR) gesê. Sy is die projekleier van die lietsjieteelprogram by die LNR se eenheid vir Tropiese en Subtropiese Gewasse (LNR-TSG).

Navorsing op 30 kultivars van Australië en Israel wat tussen 2012 en 2014 na Suid-Afrika gebring is, is toegespits op opbrengs, vrugkwaliteit en die fenologiese ontwikkeling. Die LNR-TSG se evaluerings het in twee streke plaasgevind. By Malelane word vrugte vroeg in die lietsjieseisoen ryp en by Mbombela in die middel van die seisoen.

Ter aanvulling van die twee kultivars wat die meeste in Suid-Afrika geproduseer word, Mauritius en McLean’s Red, evalueer die LNR-TSG ingevoerde kultivars. Die mikpunt is onder meer om kultivars met ander produksietye te kry en daarmee nuwe uitvoermarkte te ontgin. Om ‘n uitvoermark suksesvol te kan benut moet gapings gevind word wanneer ander lande se lietsjieproduksie afneem.

In die 2024/25-seisoen is evaluering van die ingevoerde kultivars voortgesit en met Mauritius en McLean’s Red vergelyk. Lietsjies se rypwording en produksietyd word in drie seisoene verdeel, naamlik, vroeg, middel en laat. Mauritius is sedert 1875 in Suid-Afrika en word in die middelseisoen ryp. McLean’s Red kom in die middel- tot laatseisoen in produksie.

Onder die nuwe kultivars kon die kultivar Hung Long by Malelane reeds in die derde week van November geoes word en dit het deurlopend die hoogste opbrengs en die beste vruggrootte gelewer. ‘n Kultivar in dieselfde produksiestreek wat die laaste ryp vrugte gelewer het, was Shuijinqui. Dié kultivar het volgens die navorsers ‘n uitnemende vruggrootte gehad, asook ‘n donkerrooi skil wanneer dit ryp was.

In die streek met middelseisoenproduksie was Souey Tung die vroegste ryp in die eerste week van Desember en Maguili die laaste ryp in die vierde week van Januarie. ‘n Toppresteerder was Israeli kultivar D met ‘n vrugmassa van 35,39 g en grootte van 34,95 mm. In dieselfde streek het Hung Long deurlopend ‘n hoë opbrengs gelewer en sy vrugte se gewig was 29,13 g en grootte 32,07 mm.

‘n Kultivar met potensiaal vir produksie in die laatseisoen is volgens die navorsers Shuijinqui. Die kultivar se donkerrooi ryp vrug, massa van 39,83 g en grootte van 38,26 mm en algehele vrugkwaliteit maak daarvan ‘n sterk kommersiële oorweging.

Lietsjies vir ‘n warmer klimaat

Die klimaatstreke waarin lietsjies deesdae internasionaal verbou word, verskil van die vrug se oorspronklike streke in die suide van China en noorde van Vietnam. Boonop veroorsaak klimaatsverandering beduidende uitdagings, sê dr Smadar Harpaz-Saad, ‘n navorser en senior lektor van die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem.

Die probleme deur klimaatsverandering sluit die aanvang van blomtyd in, voortydige vegetatiewe groei, afspening van jong vrugte en verbruining van die skil voor en nadat geoes is, sê dr Harpaz-Saad. Sy was die hoofspreker by die SALKV se simposium. Die Universiteit se instituut van plantwetenskappe en genetika in landbou se navorsing is daarop toegespits om die winsgewendheid van lietsjieproduksie te kan volhou.

Uit hulle navorsing het die kultivar Hung Long getoon dat dit die beste aanpas by warm en droë klimaatstoestande. Dit is onder meer ‘n doeltreffende kruisbestuiwer wat die vruggrootte en opbrengs van ander kultivars soos Mauritius, Tamuz en Fei Zi Xiao verbeter het.

Teenvoeter vir gebarste skil

Navorsing deur Nico Roets van Huilboerboon Landboudienste het getoon dat bespuiting met boor en kalsium tydens lietsjies se vroeë vrugontwikkeling baie nuttig kan wees om gebarste skille te verminder. Vrugte wat bars kan oesverliese van tot 33% veroorsaak.

Gebarste vrugte word waarskynlik veroorsaak wanneer ‘n te dun skil gedurende vroeë vrugontwikkeling ontstaan. Dit kan deur te lae vlakke van kalsium veroorsaak word. Die navorsing was op die kultivars Early Delight en Mauritius in die distrikte van Mbombela en Malelane gedoen.

Roets sê die toediening van boor en kalsium het vruggrootte beïnvloed, maar die vrugkwaliteit, massa en ander kenmerke is nie benadeel nie.

Sonbrand se skade

In die afgelope dekade het buitengewone weerstoestande soos uiterste hitte en lae humiditeit gedurende lietsjies se blom- en vrugperiode toenemend voorgekom, sê dr Regina Cronjé van die LNR-TSG. Dit het veral by die kultivar Mauritius oesverliese veroorsaak weens vrugte wat afval, sonbrandskade en vrugbarste.

Ten einde oplossings te vind het die LNR-TSG navorsing gedoen deur boorde met ‘n biostimulant te spuit en met skadunette te bedek in die twee verbouingstreke van Mbombela en Malelane.

Bespuiting hou groot belofte in om opbrengsverliese weens buitengewone weerstoestande te verminder. Met die bespuiting is bemarkbare opbrengs verhoog deur skade van sonbrand met tot 20% en vrugbarste met tot 35% te verminder. Biostimulante se doeltreffendheid is egter afhanklik van optimale weerstoestande wanneer dit toegedien word.

Met skadunette is bevind dat boorde wat ten volle bedek is beter resultate gelewer het teen sonbrand, vrugbarste en met opbrengstoename, as boorde wat net ‘n dakbedekking gehad het. Die gebruik van skadunette verhoog egter die boorde se insetkoste.

Die navorsers raai produsente aan om meer boordpraktyke te ondersoek en dit vir die beste resultate in kombinasie met mekaar toe te pas.