Onderwyl reën die aanvang van 2025 se avokado-seisoen in die noordelike provinsies vertraag het, het die SA Avokadokwekersvereniging (SAAKV) hul jaarlike navorsingsimposium op Tzaneen met ‘n rekordbywoning aangebied. Sowat 300 produsente, navorsers en verskaffers van insetmiddele het die simposium bygewoon. By dié geleentheid doen navorsers verslag oor die vordering en resultate van hul werk wat in opdrag van die SAAKV uitgevoer word.
Zander Ernst, voorsitter van die Vereniging, sê die simposium is ‘n toekomsgerigte benadering vir ontwikkeling en dra by tot die bedryf se groei en volhoubaarheid. Elke besprekingsessie is nóg ‘n boublok vir die bedryf se krag en veerkragtigheid. Die program het ‘n balans gehad van besprekings oor onder meer produsente se praktiese sorge en strategiese langtermyn-oorwegings en dit was ‘n goeie geleentheid vir kennis-uitruiling en ‘n leerskool vir almal.
Die bedryf bevind hom volgens Ernst in veranderende klimaatstoestande en ontvouende marktoestande en die simposium help om bedryf vir verandering voor te berei. Hy sê dit is belangrik hoe ‘n bedryf se afsonderlike dele saam werk. Die avokadobedryf se sukses hang onder meer af van navorsers se samewerking, praktiese eksperimentering en gesamenlike innovering.
Water en rypwording
Een van die navorsingsprojekte waaroor verslag gedoen is, handel oor avokado’s se watergebruik. Die indruk bestaan dat avokado’s meer water as die meeste ander (vrugte)gewasse gebruik en nie produktief met watergebruik is nie.
Die bestaande inligting oor avokado’s se watergebruik is volgens die betrokke navorsers nog nie wetenskaplik met ‘n vergelykende maatstaf vasgestel nie. Dit is onwaarskynlik dat die bestaande waardes op alle avokadoproduksiestreke van toepassing kan wees.
Navorsers stel nou ‘n basis op met wetenskaplike inligting oor avokado’s se watergebruik in Suid-Afrika.
Om te kan bereken hoeveel water plaaslike avokadobome nodig het, moes die navorsers inligting versamel van volwasse avokado’s van die Hass-kultivar in ‘n warmer en ‘n koeler produksiestreek. Faktore wat in berekening gebring is, sluit die boorde se blaredak, die soort besproeiingstelsel en weerkundige inligting van ‘n aantal seisoene in.
Toegang tot nuwer uitvoermarkte en geskikte kultivars daarvoor word voortdurend ondersoek. Navorsers het verslag gedoen oor probleme met een van die nuwer avokadokultivars, Lamb Hass, se volwassenheid en rypwording. Produsente het probleme ondervind om Lamb Hass in die regte stadium te oes.
Dié kultivar help die plaaslike bedryf om hul seisoen uit te brei en hul aandeel in die uitvoermark te beskerm. ‘n Voordeel van hierdie nuwe kultivar is dat dit eenvoudiger snoeiwerk vereis en minder chemikalieë benodig. Ongelukkig is ervaar dat hierdie avokado’s oneweredig ryp word omdat die vrugte nie tydens oestyd gelyktydig volwassenheid bereik het nie.
Ten einde ‘n betroubare maatstaf te vind om die vrugte se oesgereedheid te kan bepaal, het navorsers verskeie faktore in meer besonderhede ondersoek. Dit het intensiewe toetse vir die avokado’s se suikerinhoud, die konsentrasie suurheid en die grond se pH-graad ingesluit. Die navorsing is in ‘n boord van Westfalia in KwaZulu-Natal uitgevoer.
Die resultaat was dat ‘n avokado se droë massa ‘n betroubare maatstaf gee om volwassenheid te kan bepaal. Die navorsers het ook bevind dat die vrug se suikerinhoud potensiaal het om oesgereedheid te kan bepaal. Die resultate verskaf ‘n nuttige hulpmiddel aan produsente oor die kultivar se oesgereedheid.
Sonbrand
Produsente se lewerings word soms belemmer deur sonbrandskade wat op verskeie vrugte voorkom. In 2023 is beraam dat skade weens sonbrand ‘n verlies van sowat R777 miljoen aan uitgevoerde Suid-Afrikaanse vrugte veroorsaak het. By avokado’s kan oesverliese van 5% tot 50% wissel en sulke vrugte kan nie uitgevoer word nie. Die verliese verskil volgens ‘n seisoen se weerstoestande en streke se klimaat, sê Werner van der Nest van Dux Agri.
Hy het tydens die simposium gesê dat tot 27% van Suid-Afrikaanse uitvoervrugte in 2023 weens sonbrand verlore gegaan het. Sonbrand veroorsaak hitte- en waterstremming aan vrugte.
Weens gesondheids- en veiligheidsvereistes kan tradisionele chemiese middels nie meer as teenvoeter vir sonbrand gebruik word nie. Vrugte moet toenemend met omgewingsvriendelike produkte behandel word en met minder of geen chemiese middels geproduseer word. Dux Agri spesialiseer in biotegnologiese oplossings vir landbou waarin daar geen chemiese neerslag in gewasse is nie.
Om sonbrandskade teen te werk het die maatskappy middels getoets om sonstrale te weerkaats en middels wat ‘n skermlaag om vrugte plaas. Die middels verminder die voorkoms van beskadigde vrugte en verhoog blare se chlorofil-inhoud. Dit verhoog ook die suikerinhoud (brix), die droë materiaal, fermheid, massa en vruggrootte. Volgens Dux Agri se proefnemings met ‘n produk wat ortokiselsuur bevat, Eckosil, was die resultaat doeltreffende voorkomende beskerming teen sonbrand en beter gehalte avokado’s.
Van der Nest het produsente aangeraai om eerder vroeër as later met voorkomende behandeling teen sonbrand te begin en van die biologiese oplossing daarvoor gebruik te maak.