Sedert die ontstaan van die wêreld is die belangrikheid van water onmiskenbaar. Nadat see en land geskei is, het water die aarde deur die eeue help vorm. Water is die oorsaak van goeie en swak oeste, van sewe jaar van droogte tot swaar reën wat vir veertig dae en nagte aangehou het. Water is ’n kritieke deel van gewasproduksie, maar kry in baie gevalle nie die aandag wat dit verdien nie.
Een millimeter reën op ’n hektaar is 10 000 liter water. Indien dit dus 30 mm reën, beteken dit 300 000 liter water oor dieselfde oppervlakte. Indien die infiltrasietempo van die grond oorskrei word, gaan die meeste van die water deur afloop verlore. Die grond se infiltrasievermoë word grootliks deur die grondstruktuur bepaal met voedingselemente, veral magnesium, wat ’n kritiese rol speel in die verbetering van die grond se infiltrasietempo.
Hoewel verskeie handleidings beskikbaar is oor besproeiing en besproeiingskedulering en moderne tegnologie ingespan word om besproeiing te bestuur, bly oorbesproeiing steeds een van die hoofredes vir siektes, laer opbrengste en kwaliteitsprobleme op die plaas. Gewasse gaan deur verskillende ontwikkelingsfases en elke fase het sy eie vereistes ten opsigte van bemesting en waterverbruik. Dit is gevolglik noodsaaklik dat die produsent sy / haar besproeiing sover moontlik vir optimale opbrengste by hierdie vereistes aanpas. Verkeerde of onoordeelkundige besluite kan direk of indirek lei tot oesverliese.
Die bestuur van die plant se wortelsone word dikwels afgeskeep, veral wanneer gewasse onder plastiekbedekking verbou word. Dit is moeilik om te bepaal hoeveel water toegedien word, maar verskeie apparate is beskikbaar wat hiermee kan help. Toerusting soos tensiometers en elektriese weerstandsmeters word oor die algemeen gebruik om die waterhouvermoë van die grondtipe te bepaal of om die water optimaal te gebruik.
Betroubare lesings
Tydens ‘n onlangse plaasbesoek het die produsent se selfoontoepassing aangedui dat die land besproei moet word en pompe is outomaties aangeskakel, maar tydens ’n besoek aan die land is daar gesien dat die grond reeds voor die besproeiing baie naby aan veldkapasiteit was. Nie net is dit ’n vermorsing van kunsmis wat geloog word nie, maar die bykomende pompkoste en siektes wat uitbreek kan groot verliese veroorsaak.
Indien toerusting nie gereeld gekalibreer word of reg vertolk word nie, kan dit ook nadelig wees. Profielgate is ’n eenvoudige en praktiese manier om na besproeiing te kyk en dit kan suksesvol saam met ander toerusting gebruik word. ’n Profielgat is een van die akkuraatste metodes om die grootte en diepte van die plant se wortelsone te bepaal en te sien of enige beperkende lae, soos verdigting, voorkom.
Let gerus op, wanneer ’n boer met ’n afgeslyte grondboor of graaf op die plaas rondry, is die kanse goed dat hierdie boer sy besproeiing goed bestuur.
Grondeienskappe bepaal grootliks die grootte van die plant se wortelstelsel. Die wortelstelsel kan bestuur word vandat die saailinge uitgeplant word, sodat dit oor die grootste moontlike oppervlak sonder enige beperkings kan groei.
Die bydrae van organiese materiaal in die grond is ook belangrik en kan bydra tot beter deurlugting, doeltreffende dreinering en verhoogde waterhouvermoë. Die toename in organiese materiaal kan oor die algemeen tot 100 000 liter meer water per hektaar in die grond vashou. Die aktiwiteit van mikrobe in die grond word ook verhoog, wat voordelig is vir gewas- en grondgesondheid.
Verskeie faktore moet in ag geneem word om besproeiing doeltreffend te kan bestuur. Dit is egter nie ’n maklike taak nie en elke land moet anders benader word.
Met weldeurdagte besluite, die nodige inligting en hulpmiddels wat tot die produsent se beskikking is, kan dit egter suksesvol wees:
- Beskikbaarheid, hoeveelheid en tydsduur van elke besproeiing – dit wat optimaal is teenoor wat prakties is vir die produsent of die besproeiingstelsel.
- Waterkwaliteit is baie belangrik.
- Dag- en nagtemperatuur, stralingsintensiteit, wind, reën, humiditeit, dagliglengte en lengte van die groeiseisoen. Al hierdie aspekte het ’n uitwerking op verdamping in die gewas en die grond.
- Gewas- of variëteiteienskappe ten opsigte van wortelontwikkeling, droogtetoleransie, groeistadiums, voedingsbehoeftes per groeistadium, opbrengspotensiaal en kwaliteit moet in ag geneem word. Die toepassing van verskillende bestuurspraktyke vir elke groeistadium van die plante kan lei tot groot besparings.
- Deur verskillende blokke verskillend te bestuur kan ook vir die produsent inligting verskaf oor die gevolge van spesifieke praktyke. Hoër stikstoftoedienings kan byvoorbeeld op een blok nodig wees as gevolg van loging in die grond, terwyl ’n ander blok wat korter besproei is, ’n besparing van stikstof teweeg kan bring.
- Grondtipe is belangrik as gevolg van tekstuur, struktuur, profieldiepte, beperkende lae, infiltrasietempo, dreinering, deurlugting, waterhouvermoë, voedingselemente, pH, grondtemperatuur en organismes in die grond. Sanderige grond vereis dikwels meer gereelde besproeiing, terwyl kleigrond water langer hou. Swaarder kleigrond kan egter ’n laer infiltrasietempo hê, wat veral met oorhoofse besproeiing tot afloop kan lei.
Besproeiing het ’n belangrike uitwerking op plantgesondheid. Oorbesproeiing van die wortelsone kan lei tot grondsiektes, terwyl onderbesproeiing stremming by plante kan veroorsaak en hulle vatbaar maak vir verskeie bo- en ondergrondse siektes. ’n Variëteit kan byvoorbeeld oor Phytophthora-weerstand beskik, maar oorbesproeiing kan stremming veroorsaak sodat die plant se weerstand ondoeltreffend raak. Oorbesproeiing kan ook veroorsaak dat siektes soos Phytophthora vinniger deur die water versprei, wat in ander omstandighede beheer kon word.
Indien die produsent die koste van bemesting en besproeiing kan bereken, kan dit potensiële besparings identifiseer. Besparings van tot 30% is al bereken met geen nadelige gevolge vir opbrengs of kwaliteit nie. Met die verbetering van tegnologie in die landbousektor raak dit makliker om besproeiing doeltreffender te skeduleer, wat gewasproduksie in ’n waterskaars land meer volhoubaar maak. Om die wortelsone optimaal te bestuur word ’n holistiese benadering vereis wat al die faktore van grond, gewasbehoeftes, klimaat, beskikbaarheid van voedingselemente en plantgesondheid in ag neem. Gereelde monitering en aanpassings is die sleutel tot suksesvolle gewasverbouing en ’n optimale wortelsone.
Vrywaring: Hierdie inligting is op Sakata se waarnemings en/of inligting van ander bronne gebaseer. Aangesien gewasprestasie afhang van die interaksie tussen die saad se genetiese potensiaal, die fisiologiese eienskappe daarvan en die omgewing, insluitend bestuurspraktyke, gee Sakata geen uitdruklike of geïmpliseerde vir gewasse se prestasie relatief tot die gegewe inligting. Sakata aanvaar nie enige aanspreeklikheid vir enige direkte of gevolglike verlies wat te wyte aan enige oorsaak mag ontstaan nie. Lees eers asseblief Sakata Seed Southern Africa (Pty) Ltd se verkoopsvoorwaardes voordat saad bestel word.