WHP Boshoff, B Visser, CM Bender en ZA Pretorius
Departement Plantwetenskappe, Universiteit van die Vrystaat
Roes, veroorsaak deur swamspesies van die genus Puccinia, is lank reeds bekend op uiegewasse (Allium spesies) in Suid-Afrika (SA). Beide die roespatogene Puccinia allii en P. porri is in die 1940’s en 1950’s hier aangemeld, maar duidelike onderskeid tussen die twee spesies was voor die gebruik van DNS-tegnieke bykans onmoontlik. Onlangse roesbesmettings het die uitwerking van die siekte beklemtoon en aangedui dat meer inligting oor roesreaksies van Allium-spesies en kultivars waardevol vir produsente kan wees. Voorts was dit nodig om onsekerheid uit die weg te ruim oor watter roesspesie(s) die siekte in Suid-Afrika veroorsaak.
Vyf roesisolate is versamel van Japannese lente-uie (A. fistulosum) afkomstig uit die Wes-Kaap, Vrystaat en Gauteng. Met behulp van DNS-analise is al die isolate as Puccinia porri geïdentifiseer. Infeksiestudies is onder gekontroleerde glashuistoestande gedoen met 65 kultivars van sewe Allium spesies. Veertig ui- (A. cepa) kultivars was hoogs bestand teen al die isolate. Die twee uitsonderings was Lucinda wat ‘n intermediêre reaksie getoon het en Cristalina wat matig vatbaar was. Australian Brown en Texas Grano, en die erfenisvariëteit Long Red Firenze, het elk een vatbare plant gehad.
Tydens evaluasie van A. fistulosum was All Year Round Spring Onion, Slender Star en White Welsh vatbaar terwyl Japanese Single Stem ‘n mengsel van bestande en vatbare plante gehad het. Preie (A. porrum) soos Bulgarian Giant Leek was vatbaar en ander soos Carentan, Copenhagen Leek en Elephant Leek gemeng in hulle reaksie. Al 10 knoffelkultivars was vatbaar terwyl die sprietui- en salotkultivars geen tekens van die siekte getoon het nie.
By Petrusburg het roes in 2022 epidemiese afmetings op knoffel aangeneem en infeksies is ook algemeen op lente-uie in die sentraal-Vrystaat waargeneem. Bo en behalwe die sporadiese voorkoms in die veld word roes ook soms opgemerk op lente-uie en preie in supermarkte. In baie gevalle hou die plastiekverpakking die inhoud vogtig wat bydra tot na-oes sporulering van die swam en die gevolglike onooglikheid van produkte.
Opeenvolgende produksie en gunstige toestande soos oorhoofse besproeiing of natter seisoene, matige temperatuur en vatbaarheid van kultivars dra by tot die aaneenlopende voorkoms van die swam in sekere produksiegebiede. Tipies van meeste roessiektes wat deur wind versprei word en vog nodig het om hul gasheerplante te infekteer, is hulle baie moeilik om te beheer as hulle wydverspreid voorkom, toestande gunstig bly en infeksievlakke te hoog raak. Die bestandheid van bol-ui-kultivars teen P. porri is goeie nuus vir uieprodusente. Dit strook ook met die afwesigheid van roes op A. cepa onder produksietoestande en is waarskynlik, volgens huidige inligting, toe te skryf aan die afwesigheid van P. allii in Suid-Afrika.
Produsente kan hul chemiese verteenwoordiger kontak omtrent geregistreerde swamdoders, riglyne vir toediening asook die voorgeskrewe tydsverloop tussen die laaste toediening en bemarking van varsprodukte.
Dit is belangrik om kennis te neem dat Puccinia porri nie op ander gasheerplante soos snotuie, ook bekend as slymstok of slymlelie, voorkom nie. Die roes op hierdie plant (Albuca maxima) word deur ‘n ander swam (Uromyces albucae) veroorsaak wat nie Allium spesies aanval nie.
Kontak Willem Boshoff Vir meer inligting by [email protected] of besoek https://doi.org/10.1007/s13313-023-00960-6 vir die volledige artikel. Die navorsers bedank verteenwoordigers van Sakata Saad, Starke Ayres en Klein Karoo Saad vir die verskaffing van saad, vir die deel van produksie-inligting asook waarnemings omtrent die voorkoms van roes op Allium-spesies in Suid-Afrika.