Wetenskaplikes waarsku reeds ’n geruime tyd dat klimaatsverandering plaasvind en voorspel dat die hoeveelheid, intensiteit en frekwensie van uitermatige weerstoestande gaan toeneem. Die afgelope paar seisoene se klimaatstoestande, soos uitermatige wind, oorstromings en hittegolwe, bevestig hierdie uitsprake en is die rede waarom klimaatsverandering deel van gesprekspunte tydens media- en inligtingsdae is.

Enige gewas het ’n bepaalde genetiese potensiaal met vestiging. Die uitwerking van die omgewing op die gewas bepaal die fenotipe. Met fenotipe word verwys na die gewas se eienskappe wat geneties uitgedruk en in die veld waargeneem word. Fenotipe manifesteer in algemene vrae soos: “Is die opkoms van my graan eenvormig? Is my bome se groei voldoende?”

Genetiese uitdrukking word benadeel deur stremmingstoestande tydens ’n gewas se groeisiklus en veroorsaak dat die gewas nie sy volle potensiaal bereik nie. Stremmingstoestande kan bioties of abiotiese van aard wees. Biotiese stremmingstoestande verwys na lewende organismes, soos patogene, insekte en onkruide. Abiotiese faktore verwys weer na nie-lewende faktore soos hitte, koue en vloede.

Wat kan die jy as produsent doen om die potensiële negatiewe uitwerking van biotiese en abiotiese stremmingstoestande op plantvoeding te bestuur?

Die waarde van koolstof en goeie deurlugting in die grond mag nooit onderskat word nie. Hoewel daar ’n lang lys van voordelige uitwerking van koolstof in grond is, is waterinfiltrasie, beter waterhouvermoë en ’n verhoging van die katioon-uitruilkapasiteit drie eienskappe wat uitstaan. 

Die opbou van koolstof in die grond verhoog die grond se vermoë om meer water en voedingstowwe “vas te hou”. In tye van waterskaarste word grondvog langer bewaar en tydens periodes van hoë reënval of oorbesproeiing kan voedingstofverliese beperk word. Hierdie eienskappe verhoog die grond se buffervermoë en stel die produsent in staat om stremmingstoestande beter te bestuur.

Grondkoolstof is ook die hoofenergiebron vir grondmikrobes. Organiese materiaal is die primêre dryfkrag van aktiwiteit binne die grondvoedselweb. Navorsing toon dat diversiteit in grondmikrobes tot ’n veerkragtige ekosisteem lei. ’n Diversiteit van gewasse bo die grond gaan gepaard met ’n diversiteit van grondmikrobes. Praktyke soos minimumbewerking, wisselbou, kompostering, deklae en dekgewasse, asook die inkorporering van vee in bestuurstelsels, maak dit moontlik om mikrobiese diversiteit te skep.

Grondkoolstof en gevolglik grondgesondheid, verhoog die kwaliteit van die wortelsone wat tot beter wortelgroei en gevolglike opname van voedingstowwe lei en sodoende die plant se verdraagsaamheid teen stremmingstoestande verbeter omdat die plant sterker en gesonder is. Dit is gevolglik raadsaam om moeite te doen met grondvoorbereiding tydens vestiging sodat ’n gewas met maksimum wortelontwikkeling kan wegspring.

Gesonde, sterk wortelstelsels is veral belangrik in tye van waterskaarste. Daarom moet die grond nie enige fisiese of chemiese beperkings hê wat doeltreffende wortelgroei en -diepte beperk nie.

Tydens droogtes akkumuleer soute in die wortelsone, wat wortelgroei belemmer. Korrekte besproeiingskedulering, deklae en oordeelkundige toediening van bemesting sal help om hierdie opbou van soute te vertraag. Indien water beperk is of besproeiing nie optimaal bestuur kan word nie, moet die bemestingsprogram aangepas word deur grondtoegediende kunsmis te verminder en blaarvoeding te gebruik.

Hoë reënval veroorsaak dat voedingstowwe uit die wortelsone loog en aangevul moet word. Die grondtipe sal bepaal hoe ernstig die loging is.

Bemestingsprogramme moet aangepas word om voorsiening te maak vir hierdie verliese. Hoë reënval kan veroorsaak dat grond min tot geen suurstof bevat. Onder hierdie toestande word wortelrespirasie en -groei beperk en kan voedingstofopname nie plaasvind nie. Indien versuiptoestande lank aanhou kan die wortels vrot. Sodra die grond droog genoeg is, kan wortelgroeistimulante toegedien word om nuwe wortelgroei te bevorder.

NexusAG Croplife se geakkrediteerde gewasadviseurs kan produsente help om risiko’s volhoubaar te bestuur met maatpas-bestuursprogramme wat elke produsent se unieke omgewing en spesifieke omstandighede in ag neem.

Bronne: Wiesie Burger, Tegniese Bestuurder, NexusAG; en Bennie Diedericks, ReSalt.