ALBERT POTGIETER

Landboukundige, Villa Crop Protection

Malroes, ook bekend as Alternaria Alternata, is ‘n bekende siekte in die aartappelbedryf wat jaarliks oesverliese vir produsente tot gevolg het. Die vraag wat algemeen gevra word is hoe groot die uitwerking van malroes regtig is. Malroes kan uitermatige groot oesverlies tot gevolg hȇ en in uiterste gevalle oesverliese van tot 40% veroorsaak.

Agtergrond

Die Universiteit van Pretoria se aartappelpatologieprogram het Alternaria Alternata as die organisme verantwoordelik vir malroes geïdentifiseer (Van der Waals et al., 2011). Dit is oor al Suid-Afrika se bekende aartappelproduserende gebiede versprei en simptome kan van dag 50 af (soms vroeër) na die opkoms van die aartappel gesien word. Die simptome sluit klein waterdeurdrenkte letsels aan die onderkant van die blaar in wat na ‘n paar dae vergroot en aan die bokant van die blaar gesien kan word. Malroesletsels is gewoonlik kleiner as die van vroeëroes en het ook nie die kenmerkende ringe wat met vroeëroes gepaardgaan nie.

Beheer en bestuur

Daar is tans geen geregistreerde aktiewe bestanddeel in Suid-Afrika vir malroesbeheer nie en gevolglik moet verskeie strategieë toegepas word om infeksie te voorkom, en indien besmetting klaar plaasgevind het, dit bestuur.

Malroes kom algemeen voor onder warm, vogtige toestande waar blare vir lang tydperke nat bly. Alternaria Alternata se spore oorleef lank in oesreste, grond en onkruide. Infeksie vind gewoonlik plaas na natuurlike, meganiese of chemiese aksies die plant beskadig. Die beskadigde area is die perfekte plek vir die spore om in te beweeg en infeksie te veroorsaak. Die verspreiding van die siekte vind primêr deur wind en water plaas en kan oor groot afstande beweeg.

Dit is belangrik om seker te wees dat dit wel malroesinfeksies in die gewas is, aangesien baie ander probleme soortgelyke simptome kan vertoon, soos sekere voedingstekorte. Gereelde besoeke aan die aanplantingsareas is ‘n belangrike aspek van beheer en so ook gereelde blaarmonsters om voedingstekorte te identifiseer.

Nog ‘n kritiese bestuursaspek is die beperking van stremmingstoestande, aangesien daar min tot geen kans vir korrektiewe optrede is indien infeksie reeds plaasgevind het. Dit sluit ook skadebeperking aan die plant in, hetsy dit deur insekte, chemies of meganies van aard is.

Hoewel daar tans geen aktiewe bestanddeel vir malroes in Suid-Afrika geregistreer is nie, is daar is wel sekere aktiewe middels wat die beheer beïnvoed. Kinoon buite-inhibeerders asook die inhibeerders van suksinaat-dehidrogenase (SDHI) swamdoders word as ‘n oplossing aangewend maar geen aktiewe middel dien as ‘n volledige oplossing nie. Daar is ook sprake van weerstand teen die groepe.

‘n Belangrike punt is die doeltreffende toediening van die chemikalieë wat gebruik word. Genoeg water met toediening, die regte byvoegmiddels vir die beste bedekking en verspreiding, en die regte benadering van aktiewe middels speel alles ‘n groot rol.

‘n Paar ander bestuurspraktyke sluit die volgende in: 

  • Aanplanting van kultivars wat minder vatbaar vir Alternaria spesies is.
  • Bekamping van Alternaria gasheerplante soos onkruid en oesreste.
  • Wisselbou met nie-gasheerplante (soos mielies en koring).
  • Plantgesondheid – swak plante tel makliker infeksies op. 

Om saam te vat, malroes is hier om te bly en iets waarvan alle aartappelprodusente kennis moet dra. Bestuur is ‘n groot bydraende faktor en soos met baie ander gevalle is voorkoming altyd beter as om regstellend te probeer optree. Gereelde inspeksies van landerye en die versameling van blaarmonsters kan probleme vroeër identifiseer. ‘n Geïntegreerde spuitprogram is belangrik om eksterne faktore soos insekskade te beperk en plantstremming te voorkom. Hou by ‘n gebalanseerde bemestingsprogram en voorkom oormatige stikstofgebruik.

Vir Villa se omvattende reeks swamdoders, besoek www.villacrop.co.za.