Magda du Toit

MEDEWERKER

Die doel van streekskongresse is om ‘n platform te skep wat boere in staat stel om die uitdagings wat hulle in die gesig staar, met die ondersteuning van Agri Limpopo aan te pak.

Tydens die opening van die Agri Limpopo-kongres wat onlangs gehou is, het Lodewyk de Jager, ondervoorsitter van Agri Limpopo, daarop gewys dat die kongrestema, Hoop is ‘n werkwoord – ten doel het om lede aan te spoor om nie net op hul eie ondernemings te fokus nie, maar ook om met ywer in te spring om van Suid-Afrika weer ‘n spogland te maak.

Die uitvoerende hoof van Agri Limpopo, Deidré Carter, het beklemtoon dat die verantwoordelikheid om die bul by die horings te pak en dinge reg te ruk, by die samelewing lê.

“Is dit ons verantwoordelikheid om in te gryp waar sake dreig om op ’n ramp af te stuur? Ja, definitief! As ons nie ingryp nie, sal die gevolge katastrofies wees. Ons moet betrokke wees. Ons moet ons moue oprol en verantwoordelikheid aanvaar,” het sy gesê.

Een van die maniere waarop baie van die uitdagings aangepak en ook ontwikkelingsdoelwitte bereik kan word, is deur hande te vat met verskillende gemeenskaps- en organisasies van die openbare sektor.

Die kongres het ook op veiligheid gefokus en in sy aanbieding het die polisie se adjunkkommissaris van Limpopo, majoor-generaal Jan Scheepers, gewaarsku dat almal daarop bedag moet wees dat sake in die land oor die volgende jaar afdraande kan loop. 

“Met die komende verkiesing op die agenda, kan dit wees dat ons in die komende jaar moontlik meer geweld en misdaad kan verwag,” het hy gesê. Scheepers het erken dat die landbou- en plattelandse gemeenskappe hulleself in ’n tameletjie-situasie bevind, maar het ’n beroep op boere gedoen dat hulle nie moet toelaat dat hierdie omstandighede hulle definieer nie.

Hy het egter die boere en Agri Limpopo bedank vir die onderskeie veiligheidsinisiatiewe in die provinsie en onderneem dat die polisie alles in hulle vermoë sal doen om die boeregemeenskap te ondersteun. Hy het erken dat die polisie wel in sekere opsigte te kort skiet en dat hulle daarop fokus om te verbeter.

“Ek weet ons is die skuldige party in sekere opsigte, en dit is reg en goed dat ons op ons foute gewys word. Ons sal die slae vat. Maar ek wil tog vra dat julle nie net kritiseer nie, maar dat ons hande moet vat. Bly deel van die oplossing,” het hy gevra.

Hy het gevra boere moet daarop fokus om hul plaaswerkers op te neem binne hul veiligheidsplanne. “Plaasveiligheid kan nie net op die boer fokus nie. Plaasveiligheid moet ook die veiligheid van die plaaswerkers insluit. Hoewel die verantwoordelikheid vir veiligheid en sekuriteit by die regering lê, sal plaaslike inisiatiewe meer doeltreffend wees as dit ook die veiligheid van plaaswerkers en plaaslike gemeenskappe insluit. Plaaswerkers is net so ‘n groot teiken van plaasmoorde en aanrandings en moet derhalwe deel vorm van die planne.”