Gebalanseerde gewasbestuursprogramme verhoog plante se plantgesondheid en bevorder kwaliteit gewasse. Dit is ook kostedoeltreffend en bevorder volhoubare landboupraktyke.
NexusAG se tweeledige benadering fokus op voeding en beskerming om hierdie doelwitte te bereik.
Grond- en wortelgesondheid word bestuur deur doeltreffende voedingsprogramme en is een van die belangrike aspekte wat in ag geneem word. Gesonde grond sorg vir gesonde wortels, wat ’n gesonde plant en produk tot gevolg het. Plante met gesonde wortelstelsels het ook ’n langer produktiewe leeftyd. Die belegging wat in grondgesondheid gemaak word, word gevolglik op die lang termyn só verhaal.
Gesonde grond voldoen aan drie eienskappe, naamlik chemies (voedingstof-beskikbaarheid, pH- en sout-inhoud), fisies (porositeit, waterhouvermoë en struktuur) en biologies (lewende grond-organismes).
Wanneer net een van hierdie eienskappe uit balans of onvoldoende is, kan dit lei tot sub-optimale wateropname, waterhouvermoë, grond-deurlugting en swak wortelontwikkeling.
Oesbeskerming vorm ’n integrale deel van enige produksiestelsel en derhalwe ook in die produksie van sagte vrugte. Volhoubare oesbeskerming sluit in:
- Plaagbeheermiddels moet verantwoordelik gebruik word om geen omgewings- en menslike risiko in te hou nie, opbou van weerstand onder teiken-organismes te verhoed en die middels moet voldoen aan die mark se behoeftes.
- Die oesbeskerming moet bestuur word, sodat die maksimum residu-limiete (MRL) nie oorskry word nie en dit moet vir die produsent finansieel volhoubaar wees.
- Al die produkte wat gebruik word, moet gevolglik op een of ander manier waarde toevoeg.
Onkruidbestuur is een van die noodsaaklike pilare van optimale oesbeskerming. Deur onkruide te bestuur – hetsy met onkruiddoders of deur meganiese metodes soos die gebruik van bossieslaners – het gewasse kans om beter te presteer.
Gewasprestasie verbeter omdat daar nie mededinging met onkruid is vir water en voedingstowwe nie en daar gevolglik ’n beter verspreiding van water en voedingstowwe in die wortelsone kan plaasvind. Boordhigiëne kan ook makliker toegepas word, wat lei tot doeltreffender bestuur van plae.
Die ander pilare van optimale oesbeskerming is siekte- en plaagbeheer. Suksesvolle siekte- en plaagbeheer begin by die monitering daarvan. Sommige siektes en plae moet voorkomend behandel word, veral wanneer daar ’n geskiedenis van hierdie siektes en plae in die boorde is. Monitering is steeds noodsaaklik om te bepaal of bykomende stappe geneem moet word. Siektes kan oor die algemeen nie gekwantifiseer word nie, maar die mate van teenwoordigheid kan gebruik word as aanduiding of die huidige oesbeskermingsprogram doeltreffend is en of dit aangepas moet word. Plae is oor die algemeen meer kwantifiseerbaar – veral as lokvalle gebruik kan word. ’n Ander manier om plae te kwantifiseer is deur infestasie-monitering.
Die besluit om plaagbeheer te doen kan geskoei word op:
- Ekonomiese skadevlak (ESV): Die vlak van besmetting is van so ’n aard dat die beheer daarvan gelykstaande is aan die skade wat dit aan die vrugte aanrig; of
- die Ekonomiese drumpelwaarde (ED): Die punt waar die siekte of plaag beheer moet word, voordat dit die ESV bereik.
Drempelwaardes is nie beskikbaar vir alle siektes en plae nie, maar indien dit beskikbaar is kan dit as riglyn gebruik word. Ander faktore wat ook in ag geneem moet word is byvoorbeeld:
- Die tyd van die seisoen – plae kan in sekere tye van die seisoen meer skade veroorsaak.
- Die teikenmark– produkkeuse gaan bepaal of daar ’n aanvaarbare chemiese residu gaan wees of nie. Sekere markte het ook spesifieke fitosanitêre vereistes.
- Die kultivar en vrugtipe – sommige kultivars is minder vatbaar vir sekere siektes en plae.
- Die doeltreffendheid van beskikbare plaagdoders – sekere plaagdoders is doeltreffender as ander of is meer geskik gedurende sekere tye van die seisoen.
NexusAG spesialiseer in omvattende gewasbestuurprogramme wat voeding en oesbeskerming integreer. Dit is die kritiese skakel in die waardeketting tussen top internasionale en nasionale verskaffers van landbouverwante produkte en -dienste en die produsent regdeur die produksiesiklus.
Kontak ’n NexusAG Croplife-geakkrediteerde gewasadviseur vir meer inligting oor volhoubare gewasbestuur van sagte vrugte by 021 860 8040 of besoek www.nexusag.net.