Vat só, jou luis!

Toenemende druk teen chemiese middels in landbou veroorsaak nie net dat die uitvoer van produkte na veral die buiteland beperk word nie, maar lei ook tot verhoogde koste vir produsente. Natuurlike beheer teen plae en siektes word al hoe meer nagevors en ingespan, saam met ander hulpmiddels in geïntegreerde plaagbeheer.

Wanneer witluise (Hemiptera Pseudococcidae) in vrugteboorde ter sprake kom, is dit ernstige probleme – nie net vir die produsente nie, maar ook vir Suid-Afrika se waardevolle uitvoerbedryf. Die florerende sitrusbedryf is maar een ster in die land se vrugtemandjie wat deur plae soos luise geteister word.

Natuurlike vyande van die verskillende soorte witluise is ‘n belangrike rolspeler om biologiese beheer toe te pas en uitvoervereistes na te kom. Sulke vriendelike insekte met groot name word by Insectec se insektariums vermeerder en in boorde vrygelaat om witluise te help beheer. Al die voordelige insekte is inheems aan Suid-Afrika en sommiges word ook uitgevoer.

Tans spits Insectec hulle op die sitrus- en wynbedryf se plae toe maar ondersoek moontlikhede om na die avokado-, makadamia- en bessiebedryf uit te brei.

Insectec produseer twee wespes en twee besies in massahoeveelhede om produsente se geïntegreerde plaagbeheer aan te vul. Die twee parasitiese wespes is Anagyrus vladimiri met die handelsnaam Ana-tec en Coccidoxenoides perminutus met die handelsnaam Cocci-tec. Hulle teiken sekere spesies van die witluis. Die twee word aanvullend in boorde gebruik waar witluisspesies die oorheersende plaag is omdat hulle die witluise in verskillende lewenstadiums aanval.

Die twee soorte liewensheerbesies wat witluise in ‘n ander lewenstadium op ‘n ander manier aanval, is Cryptolaemus montrouzieri met die handelsnaam Crypto-tec en sy nefie, Nephus kamburovi met die handelsnaam Neph-tec. Crypto-tec teiken die meeste witluisspesies in enige groeistadium. Neph-tec fokus op witluise se eiers en vroeë lewenstadium.

Insectec het in 2015 danksy die gogga-geesdrif van Hannah Otto op witluise begin toespits. ‘n Maatskappy van sitrusprodusente wat dienste in plaagbeheer voorsien, Destrimix, het biologiese plaagbeheer in hulle pakket bygevoeg deur ‘n aandeel in me Otto se Insectec te bekom. Die maatskappy is ‘n gesamentlike onderneming van bekende boerderye, naamlik die Mahela Groep, Komati Fruit en Laeveld Sitrus. Me Otto is steeds ‘n direkteur en hoof van Insectec se navorsing en ontwikkeling.

Insectec het aanvanklik hulle werk by ‘n insektarium in Tzaneen gedoen. Weens die aanvraag is ‘n groter fasiliteit van wêreldgehalte in 2021 in Letsitele geopen waar ‘n toegewyde span personeel met moderne fasiliteite die natuurvriendelike insekte vermeerder. Weens die omvangryke sitrusboerderye in die noorde is Letsitele as ligging vir die insektarium gekies. Kwaliteit en higiëne is vereistes om gesonde insekte van gehalte te voorsien sodat produsente die verwagte resultate kan kry.

Karel van Heerden, uitvoerende hoof van Insectec, glo hulle fasiliteit is die grootste insektarium in die suidelike halfrond. Danksy nuwe tegnologie, soos die gebou se lugvloei, temperatuur en beheerde humiditeit, funksioneer die vermeerderingsproses baie goed. Hulle produseer drie keer meer insekte as by die vorige insektarium.

Biologiese beheer is net een pilaar van geïntegreerde plaagbeheer, sê Nadine Botha, tegniese adviseur van Insectec. Die gebruik van chemiese middels kan en gaan nie vinnig verdwyn nie. Minder skadelike of “sagter” chemiese middels sal egter nodig en verkieslik wees in die stryd teen plae en siektes.

“Geïntegreerde plaagbeheer is ‘n volhoubare benadering tot plaagbestuur. Dit is ’n kombinasie van verskillende tegnieke om sodoende die ekonomiese, gesondheids- en omgewingsrisiko’s wat plaagbestuur inhou, te verminder.”

Die proses om insekte as biologiese beheeragente te produseer is ingewikkeld en verg wetenskaplike noukeurigheid. Uit ervaring weet Insectec se span kundiges reeds watter soorte witluise in Suid-Afrika se sitrusboorde voorkom en watter insekte die witluise sal help beheer. Die voordelige insekte het elk hul eie “spyskaart” van witluise en moet in die regte ontwikkelingsfase onder die witluise vrygelaat word. Laasgenoemde is ook net in sekere lewensiklusse blootgestel aan die insekte se “aanvalle”.

Insectec vang gewoonlik voordelige insekte in die winter in sitrusboorde en neem hulle na die insektarium. Vir dié insekboerdery is kos nodig vir sowel die witluise as die voordelige insekte. Die insektarium moet eers witluise vermeerder en van voedsel voorsien sodat die voordelige insekte op hulle beurt op die luise vermeerder kan word. Insectec het gevolglik twee spanne wat na die witluise en die voordelige insekte omsien.

Hoewel sitrus na die vanselfsprekende voedselbron vir witluisteling lyk, bederf dit baie vinnig. Botterskorsies is ‘n beter voedselbron omdat dit onder beheerde toestande ‘n lang rakleeftyd het. Insectec het boerderye gekontrakteer wat deurlopend botterskorsies volgens voorskrif voorsien. Die botterskorsies moet bykans volmaak wees – ‘n sekere kultivar, sekere groeistadium en sekere grootte sonder letsels en chemiese oorblyfsels.

Nadat die witluise uit eiers gebroei het, gebruik hulle hierdie botterskorsies net soos hulle sitrus sou aanval, naamlik deur met hulle monddele ‘n gaatjie in die skil te maak en die sap as voedsel te suig. Terselfdertyd word ‘n soet en taai stof afgeskei, wat in die natuur miere lok. Miere beskerm gevolglik die witluise in boorde soos ‘n veeboer sy kudde sou pamperlang. Weens die letsel en swamgroei op die vrug word dit uiteindelik onbruikbaar.

Die voordelige insekte moet in die regte lewenstadium van die witluise bygevoeg word. Wanneer die insekte se eiers uitbroei, kan hulle die witluise vir voedsel en voortplanting benut.

Een van die noukeurige prosesse by Insectec is om die insekte per hand uit die witluise te oes – wat veeleisend is. Die wespes is te klein om te hanteer en word as papies geoes. Die besie is self fyn en klein en moet sensitief geoes word.

Die vier voordelige insekte word in houers geplaas met duidelike identifikasie en ‘n rekkie om dit aan ‘n boomtak in ‘n boord te kan hang. Afhangende van die teiken word tussen 50 en 3 000 insekte in ‘n houer geplaas. Die hoeveelheid wat vrygelaat word, word noukeurig beplan omdat sowel té veel as té min nadelig kan wees.

Die loslating van die voordelige insekte verg net soveel kundigheid en noukeurigheid as die produksie daarvan. Omgewingstoestande, die seisoen en vlak van besmetting in ‘n boord speel onder meer ‘n rol. Ook in hierdie opsig is ervaring en waarnemings van Insectec se personeel baie belangrik sodat die produsent gewenste resultate en waarde vir geld kan ontvang.

Dit vereis ook dat Insectec se personeel saam met die produsent beplanning oor onder meer spuittyd en geïntegreerde plaagbeheer moet doen. Hoe nader dit aan oestyd kom, hoe minder chemiese middels kan gebruik word en dan speel biologiese plaagbeheer ‘n groot rol.

Volgens mnr Van Heerden is die koste van biologiese plaagbeheer aanvanklik vir die pordusent nie goedkoper as chemiese beheer nie, maar dit het voordele soos ‘n hoër uitpakpersentasie van produkte en verminderde vlakke van chemiese oorblyfsels of MRLs.

Die voordelige insekte dring ook op plekke in ‘n boom in wat spuitmengsels nie altyd bereik nie. Biologiese plaagbeheer is volhoubaar, kostedoeltreffend, veilig vir personeel en die voordelige insekte is teikenspesifiek op hulle vyande gerig. Met biologiese plaagbeheer word die plaag bestuur en nie uitgewis nie, sê mnr Van Heerden.

Hy glo die gebruik van chemie is onlosmaaklike deel van organiese en natuurlike plaagbeheer. Destrimex se personeel lê gevolglik ‘n volledige plaagbeheerporgram aan produsente voor.