Johan Stronkhorst – SAKATA

Die produksie van blokvormige soetrissies het in die afgelope jare heelwat groei getoon soos die gewildheid by verbruikers toegeneem het. Dit het egter ook gelei tot verskeie uitdagings wanneer die produksie en die verbruik wipplank begin ry. Dit is ook ‘n baie goeie voorbeeld van vraag en aanbod en die uitwerking wat dit op die winsgewendheid van die produk het.

Produsente is veral in die afgelope twee jaar gekonfronteer met algemene laer produkpryse, soos verbruik afgeneem en insetkoste die hoogte ingeskiet het. Produsente word genoodsaak om baie ernstig te fokus op praktyke om winsgewend te bly produseer en op sake wat nodig mag wees om optimale opbrengste en kwaliteit te verseker.

Een van die belangrikste aspekte in groenteproduksie bly die keuse van die variëteit. Variëteite is aangepas vir verskillende klimaatstoestande of gebiede, asook vir die siektedruk wat in verskeie gebiede voorkom. Variëteite verskil van mekaar ten opsigte van die tydperk tot bekwaamheid en wanneer hulle vrugte set – sommige variëteite kan vrugte baie vinnig set en het ‘n gekonsentreerde set baie vroeg in die seisoen. Dié variëteite is geneig om periodes te hê waarin vrugset nie plaasvind nie en dit lei tot periodes waarin vrugte nie gepluk en bemark kan word nie.

Die kwaliteit van vrugte, veral die eerste vrugte op die plant, kan deur seisoenale veranderinge beïnvloed word. Die belangrikste rede hiervoor is dat daar gewoonlik in die skouertye van seisoene geplant word – ná die winter vir somerproduksie, of laatsomer vir winterproduksie. Anders as in baie ander lande (veral in Europese lande), word die saai- en planttye van soetrissievariëteite nie in Suid-Afrika gespesifiseer nie. Gewoonlik word net siekteweerstand en totale opbrengs in aanmerking geneem.

Variëteite se vatbaarheid vir blom-endverrotting (BER) asook vrugte se wanddikte moet egter ook in aanmerking geneem word. Baie soetrissieprodusente begin nou fokus op die hoeveelheid vrugte van eerste graad en wat die pryse daarvoor is, eerder as om net op die totale opbrengs van laer kwaliteit vrugte te fokus. Die boerdery se naam en reputasie word dus ook beïnvloed volgens die kwaliteit vrugte wat gelewer word.

Die korttermyn omgewingstoestande kan ‘n baie groot invloed hê op die produksie en kwaliteit. Indien ‘n variëteit se vrugset tydens ‘n kort tydperk van koue of hitte plaasvind, kan dit die vrugte se kwaliteit beïnvloed. Vrugontwikkeling kan 6 weke duur totdat die vrugte geoes word – op ‘n kompakte variëteit kan toestande gevolglik ‘n baie negatiewe uitwerking hê.

Verskeie ander omgewingsfaktore speel ook ‘n rol kan in vrugkwaliteit. Onder sekere produksiestelsels kan bitter min gedoen word om omgewingsfaktore te verander, maar dit is goed om daarvan bewus te wees sodat dit kan help met die beoordeling van variëteite in die verskillende aanplantings.

Blomme of jong vrugte wat aborteer kan onder sekere omstandighede toegeskryf word aan lae ligintensiteit – soetrissies wat onder beskerming verbou word kan veral kwesbaar wees. Die soort plastiek of skadunet kan geskik wees vir somerproduksie, maar kan die ligintensiteit in die skouertye nadelig beïnvloed. Die korrekte ligintensiteit bepaal die hoeveelheid vrugte en vruggrootte en daar kan ook gekyk word na verskillende snoeipraktyke tydens die verskillende seisoene.

Hoë ligintensiteit in die somer lei oor die algemeen tot hoër temperature wat tot vrugabortering aanleiding kan gee. In die somer mag dit gevolglik nodig wees om bykomende skaduwee te oorweeg, hoewel dit in die meeste produksiestelsels nie werklik moontlik is nie. Die spuit van verdunde verf en ander oplossings word somtyds hiervoor gebruik, en hoewel dit ‘n positiewe uitwerking kan hê op temperatuur wat die abortering kan verminder, kan dit moontlik die plastiek se lewensduur negatief beïnvloed.

In ooplandproduksie is hierdie praktyke onmoontlik, maar daar is verskeie chemiese middels wat vir beskerming gebruik kan word – die produsent moet die toediening van hierdie produkte oorweeg ten opsigte van kostes en moontlike verliese.

Onder beskerming word die lig gedemp terwyl dit deur die plastiek en selfs skadunet beweeg. Dit het ‘n voordelige uitwerking op die plantegroei en vruggrootte en die vrugset neem toe. Dit kan ook lei tot vinniger bekwaamheid, as gevolg van die verhoogte fotosintese en dat die plant vir langer tye van die dag fotosinteer.

Verhoogde temperature het ook ‘n invloed op die beweging van voedingselemente in die plant. Die opvallendste is die beweging van kalsium in die plant, veral in die vrugte. Dit kan lei tot die verhoogde voorkoms van blom-endverrotting.

Hoër dagtemperature wat gepaard gaan met hoë relatiewe humiditeit kan ook daartoe lei dat die tempo van evapotranspirasie afneem. Dit het ‘n negatiewe invloed op die translokasie van veral kalsium na die vrugte. Die produksie van soetrissies is nie net gevoelig vir dagtemperature nie, nagtemperature het net so ‘n groot invloed, met die optimale temperatuur tussen 16 ºC en 17 ºC. Soetrissies is veral gevoelig vir nagtemperature ten opsigte van bestuiwing van die blomme – laer bestuiwing lei tot kleiner vrugte en selfs misvormde vrugte.

Ander faktore wat ook ‘n rol kan speel is die plantdigtheid of die hoeveelheid stamme per hektaar. Daar moet ‘n balans wees tussen genoeg plante of stamme en die hoeveelheid vrugte wat op ‘n plant gedra kan word. Plante kompenseer self vir die digtheid – teen hoë digthede kan kleiner vrugte gevorm word, of blomme en vrugte kan selfs aborteer. Die plantdigtheid kan ook verskil tussen die winter- en somerseisoen.

Snoeipraktyke kan toegepas word om die regte balans tussen die hoeveelheid blare en vrugte te handhaaf en sodoende ligpenetrasie in die plant te bevorder. Baie hoë plantdigthede of blaarbedekking kan lei tot siektes wat moeilik beheer kan word, dit kan dan veral in lae ligintensiteit ‘n probleem wees. In die somer kan ‘n hoër verhouding tussen blare en vrugte voordelig wees, wat veral die vrugte teen sonbrand kan beskerm.

Met al die faktore wat hier beskryf is, is dit belangrik vir die produsent om te bepaal watter faktore op sy produksies van toepassing is en wat moontlik gedoen kan word om die optimale produksie te kry van eerste-graadvrugte. Verskeie produsente wat alreeds poog om opbrengs en kwaliteit te verbeter deur produksiepraktyke te verfyn, begin om produksies af te skaal in tye wat minder gunstig is. Die meeste produsente sal saamstem dat die belangrikste mikpunt is om sover moontlik deurlopend produkte te kan lewer, maar dan moet dit winsgewend wees.

Sakata 1: Die dikte van ‘n soetrissie se vrugwand verskil in variëteite.

Sakata 2: Vrugte van dieselfde soetrissieplant – vroeë vrugset (bo) en vrugset later in die seisoen (onder). Dit verskil as gevolg van die invloed van nagtemperature.

Sakata 3: Seisoenale invloed op ‘n soetrissievariëteit – eerste vrugte is te groot (bo) en vrugte later in die seisoen (onder) met ‘n mooi grootte en vorm.

Sakata 4: Die vrugte van verskillende soetrissievariëteite verskil van mekaar en is aangepas ten opsigte van planttye. Hierdie foto wys drie verskillende variëteite se vrugte wat op dieselfde tyd en omstandighede geplant is.